Hoe Robertson begin het:

Op 8 Augustus 1710 is op die gesag van die goewerneur van die Kaapkolonie, ‘n weilisensie toegestaan vir ses maande aan Pieter Joubert in die gebied waar Robertson vandag geleë is. Die lisensie is gereeld hernu en die laaste aantekening in hierdie verband was op 15 Februarie 1716. Na hierdie datum kan nie verdere verwysing gevind word nie en niemand weet wat uiteindelik met Pieter Joubert verder gebeur het nie. Dit word algemeen aanvaar dat Joubert die eerste blanke veeboer was wat hom in die gebied, wat as die “Rooye Sant aan de breede Rivier” bekend gestaan het, gevestig het.
Op kerklike gebied was “Over het Roode Zand” teen die middel van die neëntiende eeu deel van die uitgestrekte gemeente van Swellendam. Die predikant van die gemeente was sedert 1833 Dr. William Robertson. Hy was ‘n Skot wat in 1822 op sewentienjarige leeftyd as onderwyser na Suid-Afrika gekom het. Hy het hom later as bediener van die evangelie bekwaam. Hy was tot Maart 1872 die leraar van Swellendam. Hy kon slegs elke drie maande op “Over het Roode Zand” aan huis van Johannes W van Zijl dienste hou en die sakramente bedien.
Die gebied “Over het Roode Zand” het digter bevolk geraak en die begeerte het ontstaan om ‘n nuwe gemeente te stig en ‘n dorp aan te lê. Van Zijl en Maurits Bernard Polack, ’n onderwyser, het ‘n brief op 22 September 1852 gerig aan Dr. Robertson en gevra dat ’n nuwe gemeente opgerig moet word.
Op Woensdag, 19 Januarie 1853, besoek die Ringskommissie en afgevaardigdes van die gemeentes Swellendam en Worcester, die plaas van JW van Zijl. Hulle stig dan voorlopig die nuwe gemeente met Dr. Robertson as konsulent. Die Ring van Tulbagh gee goedkeuring in Oktober 1853 en die regering gee goedkeuring in Desember.
’n Deel van Van Zijl se plaas word aangekoop wat 1525 morg groot is teen die prys van £4,200. Die transportakte was gedateer 28 Julie 1853. ’n Versoek word aan Dr. Robertson gerig om die dorp na hom te vernoem. Hy willig in en die Luitenant-Goewerneur aan die Kaap het dit ook goedgekeur. Op Woensdag 4 Mei 1853 word die eerste erwe verkoop en op 13 Junie 1853 word besluit om ’n kerk te bou. Die hoeksteenlegging vind plaas op 16 September 1853 en die inwyding op 29 Oktober 1856. Die oorspronklike gebou is egter gesloop en vervang met die huidige gebou in 1905.
Uit: ROBERTSON, 1853 — 1953. Gedenkboek by geleentheid van die honderjarige bestaan van die dorp en die NG Gemeente Robertson. Deur: AH Tromp
Wamakery:

‘n Bedryf wat vroeg opgang gemaak het, was die wamakery. Die ontdekking van diamante in Griekwaland Wes en van goud aan die Witwatersrand het ‘n gunstige uitwerking op Robertson gehad. Na beweer word, het meer as die helfte van die dorp se mansmense hulle daarna gaan toelê op kar- en wamakery, en omtrent ‘n kwart van die inwoners op togry.
Wamakery word spoedig ‘n baie belangrike nywerheid – trouens, Robertson het een van die vernaamste dorpe op hierdie gebied geword. Onder die bekendste wamakers was Philip Fouche wat die wa van President Kruger vervaardig het, William Sagar, Jan Neethling, Dan en Dirk During, Willem en Abraham Cilliers, Pieter de Wet, Willem van As, Louis Burger, Piet en Jan van Graan en ander.
Die togryers het die waens opgekoop en dan teen groot wins in die Vrystaat en die Suid-Afrikaanse Republiek gaan verkoop. Dit was geen ongewone gesig om ‘n konvooi van vyftien tot twintig waens belaai met gedroogte vrugte, rosyntjies, amandels, asyn, moskonfyt, wyn, brandewyn op tog na die onderveld te sien vertrek. Die wamakers het welvarend geword, en die togryers, na beweer word, nog gouer as die wamakers.
Twee faktore was die oorsaak dat die wamakery later agteruitgegaan en uiteindelik heeltemal verdwyn het – die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog en die feit dat die bedryf later na die Paarl verhuis het waar meer moderne masjinerie in gebruik geneem was.
Uit: ROBERTSON, 1853 — 1953. Gedenkboek by geleentheid van die honderjarige bestaan van die dorp en die NG Gemeente Robertson. Deur: AH Tromp
