Druid’s Lodge

Die huis was geleë op die hoek van Paul Kruger en Le Roux strate en was gebou in 1860. Daar was sewe vorige eienaars van hierdie huis voordat Mnr. Henry Dutton English dit in 1883 gekoop het. Onder hulle was Mnr. Thomas Barry snr, die alombekende grofsmid wat in die huis gewoon het vanaf 1867 tot 1873 en Mnr. Thomas Connell, die hoofkonstabel vanaf 1873 tot 1875. Mnr. English wat in 1881 aangestel was as Siviele Kommissaris en plaaslike Landdros, het saam met sy vrou Katherine Human, die eiendom gekoop en dit “Druid’s Lodge” gedoop. Dit is hier waar hul kinders Maud, Elsabe, Arthur, Jessie en Violet gebore was.

In 1890 verhuis Mnr. English na Victoria Wes waar die twee jonger seuns Fred en Henry gebore was. Gedurende die tydperk 1890 tot 1895 het Mnr. English se niggie Sarah Bowler Little (die dogter van Thomas Bowler) in Druid’s Lodge skoolgehou en sy was bygestaan deur haar dogter Edith.

In 1895 het Mnr. English weens swak gesondheid uit die diens getree en het hy en sy gesin teruggekeer na Druid’s Lodge waar hy die volgende jaar oorlede is. Mev. English het in die huis aangebly tot haar dood in 1924 toe al haar kinders behalwe Maud reeds uit die huis was.

Die huis is daarna vir ongeveer 20 jaar aan die Hooper-familie verhuur en die meeste van die English familie se besittings is tot 1976 op die solder geberg. In 1947 het Violet English, ‘n onderwyseres in Suid-Rhodesië afgetree, die familiewoning heropen vir haar twee oujongnooi susters Maud en Jessie en hul toe nog ongetroude broer Fred. Violet, die langslewende lid van die familie, het in die huis gewoon tot haar dood in 1976, waarna die Robertson Munisipaliteit dit gekoop het.

Op die aandrang van Mev. Becky Saacks is die gebou in 1977 tot Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar en met die Munisipaliteit se toestemming is die klein museum versameling wat bymekaar gemaak is, in die huis uitgestal en het die amptelike opening van die museum plaasgevind op 7 Junie 1977 onder die kuratorskap van Mev. Becky Saacks.

In 1980 is die anneks gebou op die perseel en staan bekend as die Barry-kamer. In 1981 het geweldige swaar vloed storms die area getref en die museum het dit nie vrygespring nie en groot skade is aan die gebou aangerig. As gevolg van verkeerde restourasies tegnieke oor die jare het die huis se struktuur al meer verswak en met die restourasie poging in 2014, het die huis inmekaar getuimel.

Tans word ’n gedeelte van die museum se versameling in die Barry-kamer uitgestal en die res word geberg. Die museum kan tans steeds besoek word en navrae kan gerig word per e-pos by robertsonmuseum@gmail.com of per telefoon by 023 626 3681, Maandag tot Saterdag, 09:00 — 12:00.